Annatjie du Toit is op 20 Mei op die ouderdom van 90 oorlede.
Annatjie was bekend as onderwyser, Voortrekker en gemeenskapslid, en het op Renosterkop net buite Mbombela gewoon. Dié jongste van vyf kinders is in 1931 op Lydenburg gebore.
“Sy het ‘n vol en kleurryke lewe van onbaatsugtige diens en toewyding gehad, en ‘n groot rol in haar gemeenskap en vir elke individu wat haar pad gekruis het, gespeel,” sê Annatjie se broerskind, Antoinette Jurgens.
“Nig Annatjie”, soos sy in die Laeveld bekend was, het haar teenwoordigheid by die Voortrekkers, waarby sy in 1937 op die ouderdom van ses ingelyf is, laat geld.
In 1997 het sy by die Nelspruit-tak erelidmaatskap ontvang. Na 13 jaar as kommandant by die Nelspruit-kommando het sy afgetree, tog het sy nog by opleiding en kampe betrokke gebly.
Sy was een van die stigters en dosente by die Mgwenya College of Education in KaNyamazane in 1975, wat nou deel vorm van die Mpumalanga Departement van Onderwys.
Prof. John Shongwe, voormalige rektor van dié kollege, sê dat Annatjie gemis gaan word.
“Anna was een van die eerste akademiese personeel wat by die kollege aangestel is. Sy het haar tyd en liefde vir studente gegee en was passievol vir haar werk.”
Hy voeg by dat Annatjie haar merk op onderwys en onderrig in die Laeveld gelaat het.
Na haar aftrede het sy steeds by haar gemeenskap betrokke gebly. Sy was die voorsitter en organiseerder van die Seniorburgers van Nelspruit.
Sy het ook by winkelsentrums geld ingesamel vir minderbevoorregtes.
Annetjie se gedenk- diens sal op 5 Junie gehou word. Vir navrae, skakel Antoinette by 083-453-9804.
Comments