top of page

So lyk Facebook se nuwe tuiste in Afrika

Hierdie artikel het oorspronklik in Rapport Sake gepubliseer.

Facebook se tuiste in Johannesburg is net so kleurvol en prettig soos 'n mens van 'n internasionale tegnologiemaatskappy sal verwag.

Die internetreus se kantoor in Bryanston is versier met kunswerke uit Afrika, waaronder die van die gevierde Kapenaar Lyndi Sales. Dit is Facebook se beleid om kuns van plaaslike kunstenaars in sy kantore te gebruik om dit 'n plaaslike gevoel te gee.

Die kantore is meestal oopplan met kleiner kantore vir vergaderings, opleidingskursusse en videokonferensies - elk met 'n inheemse naam soos Cradle of Humankind en Bollemakiesie.

Volgens Nunu Ntshingila, streeksdirekteur van Facebook in Afrika, is die kantoor ingerig om 'n ruimte te skep waar innovasie en samewerking gedy.

Die kantoor in Johannesburg is Facebook se enigste op die vasteland, maar Afrika is vir hom 'n groeipunt danksy die groot toename in datagebruik en die feit dat 70% van die bevolking onder 25 jaar oud is.

Facebook-lidmaatskap het in die laaste vier jaar feitlik verdubbel. Danksy inisiatiewe soos internet.org is Facebook in baie Afrikalande, soos ook in Suid-Afrika, gratis. Arthur Goldstuck, besturende direkteur van World Wide Worx, sê Facebook kan nog groei in Afrika verwag. Al hoe meer mense kry slimfone wat hul behoefte aan sosiale media vergroot, sê hy.

"Die migrasie is nog in 'n vroeë stadium, so ons kan verwag dat Facebook se groei in Afrika sal aanhou."

Hy sê die Facebook Lite-app het 'n dramatiese impak in Afrika gemaak omdat dit in die behoefte voorsien aan sosiale media wat nie baie data verg nie. Datakoste en die swak gehalte van datanetwerke bly 'n uitdaging vir internetgebruikers op die vasteland.

Facebook wou nie sê hoeveel die kantoor gekos het of hoeveel mense daar werk nie.

Kommentarer


bottom of page