top of page

Demi-Leigh se ouers praat oor haar koms

Hierdie artikel was oorspronklik op Sarie.com gepubliseer.

Op 24 Januarie, byna twee maande na haar kroning in die VSA, gaan ons eie Mej. Heelal, Demi-Leigh Nel-Peters, uiteindelik weer haar voete op Suid-Afrikaanse bodem sit.

Dis die eerste keer in 39 jaar dat die glinsterende Mej. Heelal-kroon weer na die reenboognasie toe kom. Demi-Leigh (@demileighnp) het 'n dol program sedert haar kroning, en het onder meer die Filippyne besoek en na 'n aand van Hollywood-glans by die Golden Globes meegemaak. Die Groot Appel is deesdae haar tuiste.

Demi-Leigh se ma en stiefpa, Anne-Mari en Johan Steenkamps of "Mamma en Pappa Universe" sos hulle hulself tong-in-die-kies noem, tel die dae af.

"Ons kan nie wag om haar op eie bodem te sien nie," vertel 'n opgewonde Johan. "Ons wil geen oomblik daarvan mis nie."

Maar dis nie net haar familie wat opgewonde is nie. "Hier in die Tuinrote gons dit behoorlik!" sê Johan. Die skoonheid het op Sedgefield in die Suid-Kaap grootgeword. "Demi-Leigh is die liefling van die streek en gaan beslis hartlik deur almal verwelkom word."

Johan en Anne-Mari praat selfs van 'n groot verwelkomingsfees wat beplan word.

Die opwinding oor haar koms is heeltemal verstaanbaar. Die laaste keer wat 'n Suid-Afrikaner as Mej. Heelal gekroon is, was in 1978 toe Margaret Gardiner met die gesogte titel weggestap het.

Maar niemand is trotser as haar eie familie nie. "Ons as ouers is ongelooflik trots op Demi-Leigh se prestasie en kan dit werklik nie in woorde weerge nie," sê Anne-Mari. "Om so na aan die Mej. Heelal te wees is 'n geweldige eer. Elke gedagte daaraan bring 'n blydsapstraan in die oog.

"Ons grootste wens is dat elke ouer van 'n dogter dieselfde volmaakte gevoel kan ervaar as ons."

Comments


bottom of page